Voel jy soms lus vir ‘n wilde skop en skree tantrum?
- Nita Fourie
- 7 days ago
- 2 min read
Een van my kinders het eenkeer gevra hoekom grootmense nie meer tantrums gooi nie. Hulle moet tog steeds genoeg rede hê om te skop en skree. Goeie punt! Ek het toe maar gesê ons gril vir ‘n vuil winkelvloer en ek is bang my rok waai oor my kop as ek my bene moet skop tussen Checkers se rakke. Selfs die prys van eiers is nie die vernedering werd nie!
Natuurlik wil ons emosies soms ontplof . Mel Robbins sê sulke emosionele uitbarstings of tantrums kom uit begeertes, iets wat jy vir jouself wil hê. Soos n kind wat in ‘n winkel skree omdat hy /sy roomys of ‘n speelding begeer. Kenners meen dat ons as vroue dikwels geleer het om ons eie begeertes laaste te sit. Daar is so baie balle om in die lug te hou en so baie gate om toe te stop. Soms weet jy nie eers meer wat jy wil hê nie. Ek dink nie jy wil meer noodwendig skree oor ‘n Barbie- pop of ‘n duur paaseier nie. Nou begeer jy dalk stilte, vrede, geluk, tyd met jou mense. Navorsing wys dat onderdrukte begeertes kan lei tot angstigheid. Dalk is dit tyd vir ‘n bietjie refleksie daaroor.
Gee jou emosies ‘n naam. Ons voel baie meer as net bly, kwaad of hartseer. Brené Brown het ‘n boek daaroor geskryf, Atlas of the Heart. Lees dit gerus. Sy sê wanneer jy jou eie emosies leer ken en bestuur, verbeter jou verhouding met jouself en ander.
Erken jou gevoelens. Jy hoef nie altyd met n vals, aangeplakte glimlag te loop nie. Haal asem, doen moeite om jou stres te beheer. Snuif jou laventel! Kry hulp as jy moet. Skree in jou kussing in jou binnekamer. Of trek sindelik aan en soek ‘n winkel met ‘n skoon vloer as jy ook wil bene skop. Of kom lê hier tussen my laventelbosse waar kalmte op jou wag. Dit is beslis die lekkerder opsie wat miskien kan lei na beter lewenskwaliteit.

Commentaires