Vier die liefde!
- Nita Fourie
- Feb 13
- 2 min read
“There is only one happiness in this life, to love and be loved”
Reeds in 1804 het die skrywer, George Sand, hierdie wysheid gehad. In Februarie, die maand van die liefde , is dit opnuut relevant.
Vreugde is gelukkig nie net gekoppel aan romantiese liefde nie. Jy kan steeds die liefde vier, al het die visioen van die ridder op die wit perd verdwyn.
Dit is vir my asof ‘n mens later in jou lewe, dieper en sagter kyk na die liefde. Dit word ‘n liefde wat dra, troos en ‘n veilige hawe bied waar jy kan asemhaal.
Leef jou liefde uit in dit wat vir jou pret en inspirasie bied. Dalk is dit kreatiewe handwerk, jou tuin, jou diere of jou hartsmense. Miskien is jy die mentor, ouer, of ouma wat vir altyd onthou sal word vir die liefde wat jy uitgestraal het. Is dit nie dalk meer waardevol as ‘n deftige loopbaan prestasie nie?
Ek glo geleenthede moet gevier word. Dit gee kleur aan die lewe! Nooi jou familie, vriendinne of geliefde en hou ‘n fees. Vier die liefde met koek en sjampanje of ‘n mooi koppie tee onder ‘n boom.
Laventel maak enige fees spesiaal en stylvol. ‘n Mooi pavlova met seisoenale vrugte is perfek vir hierdie warm somersdae. Dit bring romanse na enige tafel!
Maak jou eie meringue of koop een by ‘n goeie bakster. Vul dit met yogurt, room, suurlemoensmeer en ‘n verskeidenheid van vars vrugte. Ek druk n takkie of twee Margaret Robberts laventel in die room, laat dit ‘n rukkie staan en klits dit dan. Dit gee ‘n interessante geur. Natuurlik word dit dan met mooi, vars laventel versier.
Gaan groot! Vier sommer elke dag die liefde.




Comments