Oktober! Die mooiste, mooiste maand…
- Nita Fourie
- Oct 22
- 2 min read
Oktober word gesien as die mooiste maand. Hier by ons in Pretoria is die Jakaranda bome vol in blom en lyk baie state soos ‘n pers tapyt. Dit is inderdaad ‘n besondere mooi maand.
Die Nederlandse sanger, Marco Borsato, sing ‘n pragtige lied waarin hy sê wat vir ‘n mens mooi is, word bepaal hoe jy kyk. Elvis Blue het die lied vertaal as Mooi. Luister gerus na die lirieke.
Vir my is die Jakarandas net mooi. Vir iemand anders, wat moet skoonmaak en pers blommetjies hark, is dit dalk lastig. Vir ‘n kaalvoet kind wat tussen die blomme se bye moet deurstap, is dit dalk problematies. Dieselfde situasie bring verskillende perspektiewe. Dis tog hoe die lewe werk.
“Kyk jy om jou rond? Sien jy die son
Of soek jy agter alles die skadu op die grond?”
Waar lê jou fokus? Mel Robbins sê in een van haar gesprekke dat navorsing wys dat ‘n mens dikwels soek na die slegste wat kan gebeur. Jy bekommer oor goed wat dalk nooit gaan gebeur nie. Jy mis die mooi, want jou oë bly op die grond of soekend in die donker.
Die krag van ons gedagtes moenie onderskat word nie. Daar is vele studies oor die onderwerp. Ons weet wanneer jy mooi dinge raaksien en goeie dinge verwag, lig dit jou gemoed. Dan word jou maand mooier, al is jou omstandighede steeds nie perfek nie.
Die Jakarandas gaan nie lank so mooi bly nie. Dit moet nou geniet word. Hier op die Purple Posy werf is dit tyd om dooie laventelblommetjies te begin uitknip. Ons maak plek vir nuwe blomme en so bly die laventel lieflik. Kom ons bly in die oomblik en soek die mooi in elke fase. Dit bring dankbaarheid en lewenskwaliteit.
Jy is welkom om te bespreek vir Coaching sessies waar ons tegnieke aanleer om laventel te gebruik as stresverligter. Mindfulness span jou sintuie in, hou jou bewus van die oomblik en help om kalmte in ons deurmekaar wêreld te kry.
“Hoe mooi kan jou lewe lyk?
Dit is maar hoe jy kyk…”
Kyk weer rond, lig jou oë op van die grond en geniet hierdie mooi maand.
“Bewerk jy jou geluk?
Want binne in jouself, is die einde en begin?”




Comments