Perfeksie versus uitmuntendheid
- Nita Fourie
- Jan 26
- 2 min read
"This year don’t aim for perfection, aim for better!"
Hierdie woorde van Jamie Oliver, in ‘n Checkers advertensie, bly my by. Ek hou van die idee. Waarom is ons dikwels tog so ingestel op perfeksie?
Perfeksie: Die stil druk wat ons uitput.
Dr Rachel Remen sê in haar boek, Kitchen Table Wisdom, dat perfeksie vir baie mense ‘n lewensdoel geword het. Dit is deel van ons opvoeding, opleiding en ingesteldheid. Dit is wat ons van onsself verwag. Tog sê sy dit is net ‘n droom wat ons altyd bly ontwyk. Jy voel gedurig jy moet harder probeer en jy is nie goed genoeg om daar te kom nie. In haar werk as dokter het sy agtergekom dat die ewige strewe na perfeksie kan lei tot vele stresverwante siektes.
Sosiale media dra by tot die vals prentjie van perfeksie. Dit word dikwels ‘n kompetisie om die perfekte ouer, eggenoot of beroepsvrou te wees. En die prys is uitputting. Dit is soos ‘n hond wat sy stert jaag en hom nooit vang nie.
Uitmuntendheid: die gesonde alternatief.
Om te streef na ‘n lewe van uitmuntendheid (excellence), is ‘n beter opsie as ‘n lewe van perfeksie. Dit vereis nie foutloosheid nie. Daar lê krag in toewyding en aanhou probeer. As jy nie 100% by jou nuwejaarsvoorneme kan hou nie, het jy nie totaal misluk nie. Môre probeer jy weer, doen refleksie, kyk wat is realisties en wat is wensdenkery. As jy nog nooit geoefen het nie, is die Comrades dalk ‘n mikpunt wat bietjie uitgestel kan word. Natuurlik moet ons almal die beste maak van ons gawes en talente, maar ons hoef onsself nie te kasty nie. Hardloop in jou eie baan, kompeteer met jouself en vergeet van die vals, perfekte prentjies wat jy sien.
Jy kan steeds jou lewe geniet al is dit nie perfek nie. Omdat ons wag vir perfekte omstandighede gaan die lewe soms by ons verby. Ons stel uit: “ As ek net ‘n ander werk kry, sal ek ontspan.” Of “As die weer beter word, sal ek begin oefen”. “As ek net eers gewig kan verloor…” of “As ek net meer geld het…” Bly in die oomblik en werk met wat jy nou het.
Leef met ‘n uitdagende, maar haalbare doel eerder as met skadelike druk. Volg ‘n sagter benadering vir die jaar. Dalk moet ons sukses ook sien as getrouheid, deursettingsvermoë en nie foutloosheid nie.
Na ons onlangse haelskade het ek weer geleer dat groei tyd vat. Snoei, geduld en sorg is noodsaaklik. So is dit ook met ons drome en toekomsplanne. Soos my laventel wat nie nou jaag om te blom nie, maar rustig groei in hulle eie tyd, word ons ook uitgenooi om hierdie jaar stadiger en meer bewus (Mindful) te leef. Die sagte geur van laventel herinner ons daaraan dat kalmte nie ‘n luukse is nie, maar ‘n noodsaaklikheid vir ware uitmuntendheid. Wanneer ons asemhaal en aanhou probeer, skep ons ruimte vir groei wat volhoubaar is. Nie perfek nie, maar eg.
Mag hierdie jaar een wees waar jy beter keuses maak, soos Jamie voorstel. Kies vrede bo druk, groei bo prestasie en uitmuntendheid bo perfeksie. Ek staan reg om die pad saam met jou te loop. Kom kuier saam.




Pragtige en belangrike boodskap !! Dankie!