Is jy ‘n pallieter?
- Nita Fourie
- Jul 23
- 2 min read
‘n Mens leer soms baie oor die oorledene uit ‘n huldeblyk. Dana Snyman skryf so aangrypend oor sy vriend, C. Johan Bakkes, dat ek nie anders kan as om van hom te hou nie. Ek is sommer saam hartseer , al het ek hom nie geken nie.
Almal is dit eens dat Bakkes ‘n kleurvolle karakter was. Hy was baie meer as ‘n reisverhaal skrywer en professor in Rekeningkunde. Dana noem hom ‘n pallieter - ‘n lewensgenieter. Wat ‘n mooi woord! Dit is ‘n beskrywing wat sy pa, Cas Bakkes, hom gegee het. Iemand wat dit kon regkry om die lewe te geniet. Uit die stories wat oor hom vertel word, lyk dit of hy mense gehelp het om ook die lewe te kan geniet. Vriende lag oor ervaringe saam met hom en sê hoe bly hulle was om hom te kon ken. Wat ‘n kompliment is dit om so onthou te word!
Ons weet lewensvreugde steek aan. Dis lekker om saam pret te hê. Dit is baie beter as om gereeld te kla of konstant na iemand se klaagliedere te luister. Ons wil tog almal eerder lag en vrolik wees.
Johannes de Villiers, die Mindfulness kenner, sê in sy boek, Blydskap, dit help nie jy wag totdat jou lewe perfek is, voordat jy jouself blydskap gun nie. As jy aanhou wag, gaan jy nooit ‘n pallieter kan wees nie. Lewensvreugde is moontlik vir ons almal. Party van ons sal dalk net harder daarvoor moet soek. Navorsers beweer jy kan ‘n blyer blik op die lewe aanleer. Kry hulp as jy moet.
Gebruik jou laventel om jou stres onder beheer te kry. Ons weet stres steel vreugde. Laventel is ‘n natuurlike stresverligter. Jy is welkom om hier te kom leer hoe om dit te gebruik. Soek kalmte en verminder spoed. Kyk nuut om plesier in die gewone (of ongewone!) te vind. Dalk word jy binnekort n pallieter! Dalk is jy reeds een. Steek die mense in jou kring aan. Die lewe is tog bedoel om geniet te word!




Comments