Interessante brokkies oor laventel
- Nita Fourie
- Jun 17
- 2 min read
Laventel het ‘n ryk, antieke geskiedenis en was nog altyd gewild. Hier is ‘n paar interessanthede oor die plant:
Laventel kom uit die Lamiaceae of kruisement familie en is deel van kruie.
Dit is inheems aan die Meditereense lande, maar groei ook goed hier op eie bodem.
Nie alle laventel is pers nie. Van die Spaanse laventels is pienk of selfs gelerig. Daar is ook ‘n wit Dentata.
Laventel kry haar naam van die Franse woord lavare, wat beteken om te was. Dit was deel van die antieke Romeine se badrituele.
Geskiedkundiges vermoed dat die Arabiese volke die eerstes was om olie van die plant te maak. Hulle het dit gebruik om wonde te ontsmet, genesing te bespoedig en later ook as parfuum.
Die Egiptenare het dit graag gebruik in die balsem proses. Daar is glo laventel in Toetankhamen se graf gevind.
Simbolies is laventel deur die eeue geassosieer met reinheid, kalmte en heiligheid.
Daar is geglo dat ‘n laventelstaffie onheil kan verdryf. Sulke staffies is met groot sorg van die beste, vars laventel gevleg. In die 17de en 18de eeu het Franse vroue hierdie “Fuseaux de Lavande” kunstig gevleg en was dit ‘n gesogde geskenk wat goeie geluk vir ‘n bruid sou bring.
In die mid-1500’s het ene Turner in sy dokument, A New Herball, beweer dat jy jou hare met laventel moet was om geestessiektes te genees. Siekerige, lastige kinders moes laventel in hulle hare invleg. Onthou dit as jy weer voel of jy jou kop gaan verloor! Ek sien ook uit om jou kinders se nuwe haarstyl te sien!
Daar was nog altyd ‘n element van misterie rondom laventel. Dit is gebruik in verskeie kulturele rituele, bv. wanneer die somer gevier is tydens Midsummer’s Eve kon dit die goeie fee nader lok. Dan het jong meisies laventel met die oggenddou gemeng vir ‘n magiese mengsel om hulle gesigte mee te was. Dit sou ewige liefde oor jou pad bring. Laat weet gerus as dit vir jou werk!
Vandag is dit wetenskaplik bewys dat laventel kalmerende eienskappe het. Dit kan spanning en angs verlig en help om beter te slaap.
Kom omring jou met vars laventelgeure hier by Purple Posy en ervaar die wonder van die Skepper en die skoonheid van dié bekoorlike blommetjie.
Ek kan ongelukkig nie waarborg dat die goeie fee sal kom nie, maar ek weet jy kan vir ‘n rukkie die stresmonster verdryf.




Comments