Skilferkors broodstokkies met laventel
- Nita Fourie
- May 20
- 2 min read
Ek het die vreugde van broodstokkies ontdek! Dit is baie maklik om te maak, veelsydig en beïndruk jou gaste. Daar is deftige kokke wat ingewikkelde kunswerke hiervan maak, maar dié is my stresvrye Purple Posy weergawe.
Jy kan dit as ‘n soet of southappie maak. Saam met wintersop hou ek van ‘n geurige opsie met lekker kruie. Jy kan ‘n soet vulsel gebruik saam met stomende warmsjokolade, melkkos of selfs hawermoutpap.
Al wat jy nodig het, is ‘n rol goeie, gekoopte skilferskors (Puff pastry). Natuurlik kan jy jou eie deeg maak, as jy dit wil of kan doen. Dit bly die beste!
Rol die deeg bietjie dunner uit. Verf dit met ‘n eiermengsel van een geklitste eier en so 10 ml koue water. Dit help dat die vulsel vasklou. Smeer een helfte van die deeg met die vulsel van jou keuse. Vou die ongesmeerde deel nou bo-oor dit en rol weer daaroor, sodat die vulsel in die deeg vasdruk. Sny repe van ongeveer 2 cm en draai dit vir ‘n gedraaide stokkie effek. Verf weer met die eiermengsel en druk die deeg bietjie vas waar dit oopbars. Jy wil nie hê die lekkerte moet uitbak nie. Bak dit, in ‘n gesmeerde bakplaat, teen 200 vir ongeveer 15 tot 20 minute tot goudbruin.
Daar is eindelose moontlikhede vir vulsels. Ek gebruik so 3 ml Margaret Robberts blommetjies in die vulsel, vir beide soet en sout laventelstokkies. Dis ‘n wenner!
Moontlike opsies:
Sout
Getroue ou Marmite en fyn gerasperde kaas
Kruie pesto met fyn parmesaan
Olyfpasta met origanum
Kardamon, gerookte paprika en fyn kaas
Knoffelbotter en kase
Rond dit af deur klein saadjies van jou keuse daaroor te sprinkel. Die eiermengsel help dat dit vasklou.
Soet
Purple Posy laventelsuiker met kaneel
Purple Posy laventelsuiker met sjokolade
Sjokoladesmeer met fyn neute
Geniet die tyd in die kombuis. Betrek jou mense. Skink ‘n koppie tee of ‘n glas wyn en bou herinneringe!

Comments